Ons hart
Welkom by
Die Hoërskool Menlopark
Welkom by Die Hoërskool Menlopark waar uitnemendheid en balans in elke aspek van die Menlo-lewe – akademie, kultuur en sport – seëvier.
Op Menlo-bodem streef ons daarna om visionêre en veerkragtige leiers te kweek wat die wêreld sal verander.
Wees deel van ’n toekoms van uitnemendheid en hoop.
GESKIEDENIS
IDENTITEIT
WAARDES
OMGEE
MENLOBOND
Wat maak
Menlo
anders?
By Die Hoërskool Menlopark leer seuns en dogters hoe om hulleself in ‘n gemengde skool te handhaaf.
Hier word vriendskappe op ‘n rotsvaste fondasie van wedersydse respek gebou; bande wat verder as ‘n skoolloopbaan strek.
Wanneer Parkies die skool verlaat, word hulle deur oud-Menloparkers in ‘n wêreldwye netwerk van mentorskap-geleenthede verwelkom.
Word deel van ‘n toekoms waar ons hande vat om potensiaal in uitnemendheid te omskep.
Ons geskiedenis
In die vroeë sestigerjare het die kompasnaald ons stadsvaders na die uithoeke van Pretoria gestuur om ‘n nuwe skool te bou. Hulle soeke na grond het op die hoek van Lynnwood- en Atterburyweg ten einde geloop en dit is hier waar die eerste hoekpen van die Menloparkse Hoërskool ingeslaan is.
Hierdie eenvoudige gebaar was die begin van ‘n skool wat vandag as ‘n gerespekteerde akademiese instelling gereken word – ‘n baken van uitnemendheid en ‘n simbool van vooruitgang.
In 1974 verander die skool se naam na Die Hoërskool Menlopark en vandag, meer as ses dekades nadat die grondgebied van ‘n nuwe, gemengde Afrikaanse skool in Pretoria afgebaken is, word die leuse steeds daagliks getrou uitgeleef: Excelsa Petamus – streef die hoogste na.
Twaalf personeellede en 372 leerders het in 1963 die waagmoed gehad om hulle aan ‘n nuwe hoërskool te verbind. Baie van hierdie leerders was in die destydse standerd sewe en agt; pioniers wat die bekendheid van hulle ou skole agtergelaat het om deel van ‘n nuwe tradisie te word.
Teen daardie tyd het die terrein twaalf klaskamers gehuisves; genoeg om in die onderwysbehoeftes van die nuwe Parkies te voorsien. Die skool se klassieke wapen is destyds deur ‘n Parkie-ouer, me. Bettie Cilliers-Barnard, geteken.
Hierdie wapen – ‘n eenvoudige, dog treffende ontwerp – simboliseer terselfdertyd die waardes wat die skool anker en die strewe na volmaaktheid.
Die woorde van die skoollied: “Hou hoog die vaandel wit en blou” is deur mnr. J.J. Botha geskryf en deur dr. O.A. van der Stoep getoonset. Wanneer hierdie lied vandag deur nagenoeg 1 780 leerders oor die terrein weerklink, hoor jy die hartklop van ‘n skool wat sinoniem met respek, ywer, lojaliteit en integriteit is. Op Menlo-bodem staan die Parkies rotsvas – onwrikbaar in die strewe om die beste weergawe van hulleself te wees.
Die eertydse buitewyke van Pretoria vorm vandag die hart van die Jakarandastad en die pragtige uitsig wat die skool oor die stad bied, dien as ‘n herinnering van die Parkies se verantwoordelikheid om die skool se tradisieryke verlede vir toekomstige geslagte te bewaar.
Die afgelope sestig jaar was ‘n bloeitydperk in die skool se geskiedenis. Waar die onderrigtaak eers op die skouers van twaalf onderwysers gerus het, is daar vandag meer as ‘n honderd leerkragte wat hulle taak – om 1 780 Parkies vir die toekoms voor te berei – met erns bejeën.
Ons geskiedenis is ons trots. Die toekoms is ons erns.
1963
Die Menloparkse Hoërskool word gestig
1974
Ons naam verander na
Die Hoërskool Menlopark
1983
Die eerste rekenaar word vir die
Mediasentrum aangekoop
1990
Rekenaarweten-skap word vir die eerste keer aangebied
2012
Die skool se astro word in gebruik geneem
2023
Die Hoërskool Menlopark vier ses dekades van uitnemendheid
2024
Die skool se tartanbaan word in gebruik geneem
Ons
Skoollied
Hou Hoog die Vaandel Wit en Blou
Geskryf in 1965
Lirieke: Mnr. JJ Botha
Musiek: Dr. OA van der Stoep
Hou hoog die vaandel wit en blou
Ons simbool van trots en trou
Ja, ons hart,
en ons hand
Aan ons skool is dit verpand.
Hier sal ons streef en werk en bou,
Waai ons vlag hoog, wit en blou!
En al wat ons skool sal vra,
Is om trots sy naam te dra,
Excelsa petamus! Excelsa petamus!
Excelsa petamus! Streef die hoogste na.
As Hugenote kinders trou,
Sal ons hul geloftes hou,
Eer betoon,
Sonder loon,
Diensbereid en plig getrou;
Ons werk en spel getrou volbring;
Om Sy naam die lof te sing
En wat Sy gebod ons vra,
Streef ons in ons harte na.
Excelsa Petamus! Excelsa Petamus!
Excelsa Petamus! Streef die hoogste na.
Ons
Wapen
Ontwerp: B. Cilliers-Barnard
Simboliek
Die sirkelvormige skild simboliseer ons strewe na volmaaktheid.
Die kruis versinnebeeld ons geloof in God.
Die vier kruispunte wat in agt kleiner sfere verdeel, stel die agt ankers van die Hugenote voor.
Vier hartvormige kwadrante ontstaan uit die manier waarop die punte van die kruis verbind is. Hierdie harte versinnebeeld die liefde soos wat dit in 1 Korintiërs 13:7 beskryf word.
EXCELSA PETAMUS
Streef die hoogste na
Ons
Waardes
Parkies leef die skool se waardes in alles wat hulle aanpak uit. Parkies streef daarna om hulle talente te ontwikkel sodat hulle hulle regmatige plek in die samelewing kan inneem en ’n verskil in die wêreld kan maak.
Wees deel van ‘n generasie wat weet waarheen
hulle op pad is.
Integriteit
Menloparkers beskik oor ‘n sterk morele kompas.
Menloparkers is eerlik, opreg en betroubaar.
Menloparkers streef na die handhawing en behoud van ‘n onkreukbare karakter.
Lojaliteit
Menloparkers voel tuis en geborge op Menlo-bodem.
Menloparkers ondersteun die skool en vertrou die skool se visie.
Menloparkers is dankbaar vir geleenthede en hulle is getrou aan die skool se waardes.
Respek
Menloparkers groet mekaar.
Menloparkers is nederig.
Menloparkers hanteer hul medemens en die omgewing met ontsag.
Menloparkers is buitengewoon goedgemanierd.
Ywer
Menloparkers benader elke taak – groot of klein – met geesdrif en toewyding.
Menloparkers is diensbaar en voortdurend op soek na geleenthede om hulp aan ander te verleen.
DIE HOËRSKOOL MENLOPARK