info@menlopark.co.za 012- 361 7738 GPS: X: 28°15´30ˮ Y:-25°46´0
Die Hoërskool Menlopark is een van Suid-Afrika se top skole en geleë in die Ooste van Pretoria.
Die skool is dan ook op 29 November 2010 deur Beeld-lesers wat aan die Jou-keuse-kompetisie deelgeneem het, as die top Afrikaanse hoërskool in Pretoria aangewys.
Puik onderwysers en ‘n heerlike skoolgees vind neerslag in ons credo: “ Absolut Menlo”.
Die Hoërskool Menlopark is ’n skool met eietydse tradisies, waarbinne Menlo-manne en Menlo-meisies in volkome gemak lángs mekaar, maar nie ín mekaar se skaduwee nie, ontwikkel en blom. Blom, juis omdat Die Hoërskool Menlopark elke leerder, tydens 5 jaar se ononderhandelbare akademiese toewyding, ’n groot verskeidenheid wyduiteenlopende ontwikkelingsgeleenthede bied (met genoeg ruimte vir gesonde pret en plesier). Na meer as 45 jaar is en bly een van die skool se besondere kenmerke sy “gesin”-struktuur. Warmte, meeleweing met mekaar en die absolute saamstaan op alle gebiede, bind die skool saam tot ‘n hegte gesin.
Die afgeronde en gedissiplineerde jong volwassenes-in-wording wat ons die wêreld instuur is steeds die skool se sterkste handelsmerk. Dit word, onder andere, moontlik gemaak deur ons volgehoue fokus op die daarstelling van ‘n breë en gelaaide spektrum groeipunte vir élke Parkie, in ag genome ook elkeen se unieke persoonlikheid.
Bewese sukses op alle terreine - akademie, kultuur én sport - het geen verdere bekendstelling nodig nie, nóg in Pretoria en onmiddellike omgewing, nóg waar jonk en oud hulle ook al landswyd in gerekende en gerespekteerde geselskap bevind. Die Menlo-familie se besondere hoogtes (ons leuse is nie verniet Excelsa Petamus, streef die hoogste na nie) is geanker in Christelik gefundeerde onderrig binne ’n raamwerk van streng dissipline en ononderhandelbare waardes van integriteit, lojaliteit, respek en ywer.
EXCELSA PETAMUS : ONS STREEF DIE HOOGSTE WAARDES NA
- om Christelike waardes te handhaaf
- om lojale burgers van die Republiek van Suid-Afrika te wees
- om ons moedertaal met trots en waardigheid te gebruik
- om uitnemendheid op alIe terreine van die skool te bevorder
- om op die tradisies van ons skool voort te bou
- Parkies se lewenshouding en optrede wek soveel vertroue dat daar altyd onvoorwaardelik op hulle staatgemaak kan word.
- Uit hulle waardering vir unieke geleenthede groei Parkies se trou aan die mense en instansies wat hulle lei en vorm.
- Parkies se diepgewortelde agting vir hulle medemens, vir eiendom en vir waardes vorm die ondertoon van hulle lewensbenadering.
- Die kenmerkende geesdrif waarmee Parkies alles aanpak, maak hulle besonder toegewyd en diensbaar.
- tot die bevordering van goeie verhoudinge tussen leerlinge en personeel; tussen leerlinge onderling en tussen die verskillende taal - en kultuurgroepe in ons land.
- tot liefde vir die eie en respek vir andere.
- tot aanvaarding van gesag, respek vir ons leiers en om self positiewe leiding te gee.
- om aan elke leerling die geleentheid te gee om sy/haar volle potensiaal optimaal te ontwikkel.
- om 'n gesonde balans tussen deelname en prestasie in ons skoolwerk, sport en kultuur te handhaaf.
- rentmeesterskap
- ware heer en ware dame
- sportmanskap

