Menlo-Duits en -Frans skitter in ‘n eie Taallaboratorium
Die Hoërskool Menlopark is een van slegs enkele skole in Gauteng wat kan spog met ‘n Taallaboratorium om die aanbieding van die tweede addisionele vakke, Duits en Frans, van ‘n slegs akademiese niveau na ‘n vaardigheidsvlak te neem wat ‘n vloeiende gebruik van die vreemdetaal onomkeerbaar maak.
Ons beskik oor ‘n multimedia-lokaal met 40 luisterstasies (bestaande uit ‘n stel oorfone gekoppel met eie werkstasie). Die lokaal beskik ook oor ‘n DVD/Video-fasiliteit. Leerders wat Duits en Frans en die IEB-eksamen (Independant Examination Board-eksamen) daarin aflê maak op ‘n weeklikse basis, as deel van hulle kurrikulum, gebruik van die taallaboratorium en kry sodoende geleentheid om luistervaardighede tot ‘n moedertaalspreker-vlak te ontwikkel.
Gr 8-9 besoek die taallaboratorium een periode per siklus en gr. 10-12 besoek die laboratorium 2 periodes per siklus. Leerders word hier blootgestel aan moedertaal-tempo-gesprekke en opdragte word dienooreenkomstig uitgewerk. Dit is in die Menlo-taallaboratorium hoegenaamd nie ‘n kwessie van slegs een besoek per kwartaal vir ‘n luisterassessering nie. Leerders kry met weeklikse besoeke die geleentheid om luistervaardighede te ontwikkel om uiteindelike in ‘n assesseringsgeleentheid te kan skitter met selfvertroue.
Die personeel wat die tweede addisionele vakke aanbied maak gebruik van leermateriaal uit Duitsland en Frankryk wat gerig is op ontwikkeling van vreemdetale van ‘n beginner-vlak tot ‘n moedertaalvaardigheidsvlak.
Struktuur van die kurrikulum: om leerders te laat tuisvoel word CD-luisteroefeninge afgewissel met Duits- en Franse weergawes van bekende DVD’s om leerders wat reeds die klankbaan van “Lion King” bykans uit hulle koppe ken gemaklik te laat voel met die Duitse klankbaan van “ König der Löwen” en die Franse klankbaan van “Le Roi Lion” en so maksimale woordherkenning in die vreemde taal moontlik te maak.
Suksesse voortvloeiend uit die weeklikse gebruik van die taallaboratorium van gr. 8- gr. 12 spreek duidelik uit die puik matriekuitslaewaarmee leerders wat Duits en Frans neem kan spog. Groepgemiddeldes van 76% en hoër is aan die orde van die dag.
Deutsch kickt! Français est cool!
