Swem bruis in die Menlo-bloed van elkeen van ons ABSOLUT adrenaliengevulde swemspan.
Toewyding, deursettingsvermoë en ‘n onblusbare spangees, sorg dat Die Hoërskool Menlopark vir die 2de agtereenvolgende jaar die A-bond swemafdeling vir gemengde skole wen. Gemotiveerde swemmers volg in die voetspore van bekende Menlo-swemmers soos F.C du Toit, Flippie de Waal, J.G. Bester en Gideon Louw, wat bewys gelewer het dat harde werk en groot drome die boublokke vir sukses is.
Gedurende die piek swemseisoen, geniet die Menlopark-swemspan afrigting deur spesialisafrigters, in die swembad asook in die gimnasium.
Omdat die swembad verhit is, kan Menlo-swemmers dus regdeur die jaar aan die oefen bly om topprestasies te bereik.
Fasiliteite
Menlo-swem spog met ‘n 50-meter verhitte swembad met splinternuwe baantoue wat agt bane van mekaar skei; dit bied aan ons swemmers die geleentheid om in ‘n swembad van Olimpiesestandaard in galas van hoogstaande gehalte mee te ding.
Die terrein om die swembad het grasperke, skadu en sitplekke vir swemmers en ondersteuners.
Die Menlo-swemmers het ook in spanverband of individueel toegang tot die gimnasium en by die swembad, nuutopgegradeerde kleedkamers vir seuns en dogters.
Hoogtepunte van die huidige seisoen
Provinsiaal
Verskeie swemmers is vir die Tshwane Gauteng-span gekies wat by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem het:
Swem: Tinus de Jonge (kaptein), Thomas Dyzel, Charl van Rooy, Charnè van Tonder, Connie Bloem, Michelle Pistorius, Marno Langeveldt, Bea Steyn en Petri Vosloo
Lewensredding: Werner Oosthuizen
Gesinchroniseerde swem: Sulize van Zyl (kaptein)
Nasionaal
Verskeie van ons swemmers het van 3-5 April aan die SA Nationale B-Ope Kampioenskappe deelgeneem. Twee van die Menlo swemmers het met hul besondere prestasies uitgeblink.
Michelle Pistorius:
- 800m-vryslag - goud.
- 200m, individuele wisselslag en 4X50m-wisselslagaflos - silwer
- 50m-rugslag, 200m-vlinderslag - brons
Marno Langeveldt:
- 4X50m-vryslagaflos - goud
- 50m-rugslag – silwer
Internasionaal
Gideon Louw:
oud-Parkie en lid van die Olimpiese swemspan!
Profiel:
Hoërskool: Die Hoërskool Menlopark, slaag matriek in 2005
Kollege: Indian River Community College, Fort Pierce, Florida, VSA
Universiteit: Auburn Universiteit in Auburn, Alabama, VSA
Jaar: Senior
Kursus: Sportwetenskap
Sport: Swem
Item: Vryslag
Lengte: 1,96 m
Prestasies:
6 keer verkies tot “All American”-span
Prestasies behaal in 2009:
- National Collegiate Athletic Association (NCAA)-kampioen in 3 items
- (200m-vryslagaflos; 400m-vryslagaflos; 200m-wisselslagaflos)
- SEC (South Eastern Conference)-kampioen in 3 items
- (200m vryslagaflos; 400m vryslagaflos; 800m vryslagaflos)
Prestasies behaal in 2008:
- National Collegiate Athletic Association (NCAA)-kampioen in 7 items
- (50m-vryslag; 100m-vryslag; 200m vryslag; 200m-vryslagaflos; 400m-vryslagaflos; 800m-vryslagaflos; 400m-wisselslagaflos)
- Ontvang toekenning as NCAA se Swemmer van die Jaar
- Lid van SA se Olimpiese span by die 2008- Olimpiese Spele in China
- Kwalifiseer vir die semi-finaal in die 50m-vryslag
- Beste tyd vir 50m-vryslag: 19,06s
Ter inligting
‘n “All American”-sportspan is saamgestel uit die toppresterende amateur-sportlui wat aan kolleges of universiteite studeer en wat as die beste sportmanne en –vroue van daardie betrokke seisoen beskou word.
Die National Collegiate Athletic Association (NCAA) is ‘n sportliggaam wat 1 281 instansies verteenwoordig, waaronder kolleges en universiteite in die VSA en Kanada.
Die SEC (South Eastern Conference) is ‘n kollegesportorganisasie waarby die universiteite/kollges van Alabama, Florida, Georgia, Kentucky, Mississippi, Tennessee, Auburn, Louisiana State, Mississippi State en Vanderbilt geaffilieer is.
Ontwikkelingsprogram
Menlo-swem spog met twee spanne: ‘n A-span en ‘n B-span.
Die A-span neem in die A-liga deel waarin ons tans eersteplek in die Gemengde Skole-kategorie beklee.
Ons B-span het in 2008/2009 sodanig ontwikkel dat ons in 2009 aan die B-liga deelgeneem het.
Voorseisoenvoorbereiding
Die voorseisoen se voorbereiding begin in Augustus. Die gimnasiumprogram word minimum twee keer per week onder leiding van ‘n biokinetikus gevolg. Hierdie program gee aan die swemmers die geleentheid om krag, fiksheid, soepelheid en spangees te ontwikkel.
Daar word ook ‘n aflosgala-reeks gehou om blootstelling aan meer formele galas te gee volgens FINA-reëls en regulasies, asook die Uitnodigingsgala aan die einde van elke jaar, wat ‘n wonderlike geleentheid aan ons swemmers bied om pret te hê en aan die span se vertoning in die swembad te begin werk.
Die Lentegala, waar voornemende graad 8-swemmers saam met die res van die skool kan kom swem, is ‘n pretgevulde dag.
Seisoen
Players Swim, in samewerking met Ryk Neethling, bied twee swemoefensessies per week aan vir skoolswemmers. Menlopark-leerlinge wat graag op klubvlak wil kompeteer, het die voordeel om teen 25% afslag aan te sluit by Players swemklub en kan elke dag op die skoolterrein professionele afrigting ontvang. Players bied ook Sportbeurse aan vir toegewyde swemmers. Met hierdie vennootskap bied Menlo-swem ABSOLUT alles aan enige swemmer.
Akademie en Afrigters
Die akademie beskik oor hoogs gespesialiseerde en gemotiveerde afrigters, asook ‘n toegewyde ouerkomitee, onder leiding van Liezel Lowe – swem akademiehoof.
By Menlo-swem fokus ons daarop om die hoogste vlak te bereik deur talente te kweek en te ontwikkel. Ons mededingende en talentvolle A- en B-spanne is ‘n bewys van die diepte en die dryfkrag waarna ons strewe. Daar word baie aandag gegee aan die motivering van swemmers om hulle in te lig asook trots en swemgereed te maak en dit het die afgelope seisoen vir uitstekende en toegewyde, gelukkige swemmers gesorg.
Die Swem-akademie organiseer die volgende geleenthede wat bydra tot die seisoen se spanbou en motivering:
Spanbou
Deel van Menlo-swem se sukses kan toegeskryf word aan ‘n absolute spangees wat deur spanbousessies lewendig gehou word. Motiveringsgeleenthede saam met die Olimpiese goue medaljewenner, Ryk Neethling, is reeds tradisie. Ouers, vriende en familie word almal genooi en het altyd 'n baie genotvolle tydjie saam. Hierdie tipe spanbou is waardevol vir Menlo-swemmers en het ten doel om ook hul gesinne deel van die kultuur van Menlo-Swem te maak.
Voor-interhoër ete
Die interhoërgalas is die belangrikste dae op die Menlo-swemkalender en dit is vir ons belangrik om voor dié groot dae as ‘n span bymekaar te kom. Ons ontmoet vir ‘n vroeë aandete en geniet ‘n opwindende aand vol entoesiasme en 'n heerlike warm samesyn.
Afsluitingsfunksie
Dit is ‘n belangrike datum op Menlopark se swemkalender. Al die swemmers en hulle gesinne word uitgenooi na ‘n aand waar daar aan hulle erkenning gegee word vir hulle deelname gedurende die swemseisoen en ook vir hulle prestasies tydens die seisoen. Trofeë, sertifikate, en medaljes word vir verskeie prestasies toegeken en almal gaan met ‘n glimlag huistoe. Menlo-swem gee ook erkenning aan daardie swemmers wat aan langafstandswem, lewensredding, gesinchroniseerde swem, waterpolo asook enige ander waterverwante sportsoort deelneem en uitblink.

