Belangrike inligting m.b.t eerste kwartaal se rugby. Kliek hier

DIE HOËRSKOOL MENLOPARK

Sport


Rugby

  

Menlo-Rugby streef uitnemendheid op twee gebiede na: die maksimale ontwikkeling van die potensiaal van elke speler, ongeag die span waarin hy speel, en die blootstelling van elke speler aan die mees moderne tegnologie en metodiek in afrigting. 

Die dinamiek tussen professionele afrigting en ‘n gedrewendheid tot ontwikkeling, bring ‘n Absolut Menlo-entoesiasme en -spangees wat so kragdadig is dat die Menlo Rugby-Akademie, onder leiding van mnr. Dean van der Watt, sorg vir ‘n aktiewe, gedissiplineerde lewenstyl en internalisering van die skoolleuse, nl. Excelsa Petamus (ons streef die hoogste na). Menlo-Rugby is stewig gevestig op ‘n fondament van streng dissipline wat ononderhandelbaar is.
 
Menlo-Rugby staan op twee bene: die Rugby-Akademie, met ‘n visionêre rugbybestuur, en die Menlo-ondersteunersklub (MRK), wat sorg dat passie en entoesiasme ons rugbyseuns motiveer en aanvuur en hulle ten doel stel om, in samewerking met die gemeenskap, Menlo-rugby dinamies te hou.
 
 
 
 
Hoogtepunte

 

  • 8 spelers in die Bloubul-spanne
  • Driedrukker onder Top 25 in SA
  • Cravenweek-spelers 2010: Tony Jantjies, Jose Julies, Rochester Martin & Arafaat Kock
  • Akademiespelers 2010: Jama Leromo, Justin van Wyk, Casey Jones, Heindrich Kemp, Pierre Velloen & JJ Snyders
  • Curriebeker 0/19-span: Dalton Davies
  • SA Skole-span: Tony Jantjies
 
Hoogtepunte van 2012
 
Blou Bul-spelers 
 
Triston Theron - Akademiespan  
Jacques Oosthuizen - Akademiespan
Armand Buys - Uitnodigingspan  
Marco Donges - Uitnodigingspan 
Juandre van der Walt - Uitnodigingspan
Ruan Goosen - Cravenweek

 
Fasiliteite
 
Die Hoërskool Menlopark is bevoorreg om oor ‘n sportsentrum onder ons hoofpawiljoen te beskik wat ondersteuning bied aan sportmeisies en sportmanne (in alle sportsoorte) ter voorbereiding vir en gedurende die seisoen.
 
Die Sport-Akademiehoofde werk ook hulle oefenprogramme uit in samewerking met die kundigheid beskikbaar in die Menlo-sportsentrum:
 
Rugby-Akademiehoof
Dean van der Watt
083 631 4992
 
Fisioterapeut:
Marica Kok
Tel: 012 348 6265
 
Biokinetikus/Gimnasiumwerk:
Sylvester Booysen
082 633 9956
 
Sport- & Oefenkunde-spesialiste:
Laurence Stewart
Tel:  082 857 1916             
 
Oog- & Oefenkunde-spesialis:
Jolene Campher   
Tel: 072 607 4087
 
  • Die skool het drie rugbyvelde, waarvan die A-veld, met sy 6000-sitplek pawiljoen, oor 'n volledige stel spreiligte beskik.
  • Die B- en C-veld is ook met spreiligte toegerus.
  • Daar is 'n pragtige rugbyklubhuis en toerusting sluit onder andere dryfsakke, A-rame en skrummasjiene in.
 
Ontwikkelingsprogramme
 
Ons sportontwikkelingsprogramme bied aan jongmanne, wat ernstig oor rugby is, die geleentheid om hulle vir die hoogste sport in rugby te bekwaam.
 
Menlo-Rugby se ontwikkelingsprogramme het tot gevolg dat daar elke jaar meer provinsiale spelers opgelewer word as wat ingeneem word. Hierdie groei vind plaas deur die ontwikkeling van eie talent tot hulle volle potensiaal op individuele-en spanvlak.
 
Die Hoërskool Menlopark het elke jaar talle rugbyspanne op die veld wat in die ligas hulle merk maak en teen ander topskole meeding. Tans is die skool se rugby onder die eerste 2 skole in Pretoria. Rugbytoere en -wedstryde teen ander Suid-Afrikaanse skole en ook internasionale spanne, vorm deel van die rugbyprogram.
 
Ons het al verskeie skool- en senior provinsiale spelers, asook Springbokke, opgelewer. Johan Marais, Rudolf Straeuli en Jacques Olivier is oud-Parkies wat Springbokkleure verwerf het.
 
Die Hoërskool Menlopark is ook trots op sy rugbyspelers wat Menlo-Rugby verteenwoordig by die Cravenweek.
 
Voorseisoen-oefening
 
Gedurende die voorseisoen word daar met spelers gewerk om hantering, vaardighede en fiksheid op peil te kry. Daar word ook tyd aan gimnasiumwerk spandeer gedurende die voorseisoen. Spelers wat aan ander sportsoorte binneseisoen deelneem (atletiek, swem, ens.) mag oefeninge bywoon wat nie inbreuk maak op seisoensportsoorte nie. Dit is ook die tyd wanneer proewe gespeel word vir spankeuses, alhoewel daar ook binneseisoen, voor die liga begin, wedstryde teen ander skole gespeel word, wat as proewe dien. Klinieke en vakansietoere en –kursusse is ‘n ononderhandelbare deel van die voorbereidingsprogram. Laerskoolklinieke word ook aangebied en Menlo-rugbyspelers word geleer om hulle vaardighede ook aan jonger spelers oor te dra. So ontstaan ‘n rugby-tradisie van spanwerk.
 
Binneseisoen-oefening
 
Krag en kondisionering word gehandhaaf en die klem skuif oor na vaardigheidsoefeninge, tegniese afrigting per posisie en funksie, spanoefeninge en kapteinsoefeninge, sielkundige voorbereidingsmetodes, fiksheid, spel- en posisionele ontleding.
 
Buiteseisoen-oefening
 
Daar word baie aandag gegee aan gimnasiumwerk en die rus van sekere spiere.
 
FNB Classic Clash
 
Die feit dat Die Hoërskool Menlopark as een van Suid-Afrika se top gemengde skole gereken word as dit by skolesport kom, is net weer onderstreep toe ons deur Eerste Nasionale Bank genader is om deel te word van hulle inisiatief om topskole die geleentheid te bied om op nasionale televisie teen mekaar te speel in wat as die “FNB Classic Clashes” bekendstaan.
 
Jaarliks kom Die Hoërskool  Menlopark teen St. Alban's College in die “FNB Classic Clash” te staan wat, interessant genoeg, in presies dieselfde jaar hulle deure vir die eerste keer geopen het. In dié aanskoulike wedstryde, wat gekenmerk word deur passievolle ondersteuning op die pawiljoen en uitmuntende spel, het Menlopark reeds vyf uit die ses jaar wat die Clash al plaasvind, as oorwinnaars van die veld afgestap.
 
Hierdie is ‘n dag waarna Parkies jaarliks kan uitsien as een van die groot gebeurtenisse op ons sportkalender.
 
Menlo Rugby-tradisie
 
Dit is ook tradisie by Die Hoërskool Menlopark dat die jaar se eerstespan aan die einde van die rugbyseisoen teen die vorige jaar se eerstespan kragte meet. Dié wedstryd teen die oud-Parkies laat Parkies en Oud-Parkies van heinde en ver om die A-veld saamdrom en geeneen met Menlo-bloed in sy are laat hierdie stryd by hom verbygaan nie. 
 
Menlo-Rugby Ondersteunersklub
 
Die Menlo Rugby- ondersteunersklub (MRK) se doelwit is om rugby by die skool in die regte gees te vestig, te bevorder en te kweek op ‘n manier wat tot eer strek van die hoogste rugby-ideale van die skool en sy seuns. Hulle poog om:
 
  • die Menlo-Rugbyondersteuning op ‘n georganiseerde basis te bewerkstellig deur alle rugbyondersteuners in ‘n hegte eenheid saam te snoer.
  • die Menlo Rugby-groepsidentiteit te vestig, uit te bou en uit te dra tot die gerief en voordeel van sy lede, gaste, die rugbyspelers en afrigters.
  • die nodige strukture en middele in plek te stel om rugbyspelers en afrigters te ondersteun om sodoende tot hulle optimale potensiaal te ontwikkel.
  • die nodige sosiale geleenthede te reël om met Menlo-organisasies, wat dieselfde doel nastreef, saam te werk.
 
MRK-Bestuur 2012

Voorsitter 
Louis Buys

Ondervoorsitter 
Piet de Wet

Akademiehoof 
Dean van der Watt

Strategiese sake 
Louis Cloete

Bemarking/ o/15-ouerverteenwoordiger 
Attie Smit 

Bemarking/klubhuis  
Hugo Olivier

Lede o/16-span 
Sam Theron  

Lede 0/14-span 
Marius Nysschen 

Regte 
Erenst Serfontein  

Aankope 
Danie Liebenberg
 
Finansies 
Paul Hiemstra 

Gasvrou/Ontvangs 
Ronel Liebenberg
Katryn Snyman 
 
Ledegelde van die MRK
R200 vir die eerste lid
R100 vir die tweede lid
R50 vir die derde lid
 
Bogenoemde ledegelde geld ook vir skoolleerlinge en studente.
 
 
Rugbyklubhuis
 
Die onderste vlak van die klubhuis is ingerig en word gebruik vir die onthaal van onderwysers, afrigters en skeidsregters voor, tydens en na wedstryde.
 
Absolut Menlo-Klubhuis
 
Die boonste vlak van die klubhuis is ingerig en word gebruik om Menlo Rugby-ondersteuners te akkommodeer. Alle Menlo Rugby-ouers, -ondersteuners, -onderwysers en -borge word uitgenooi om rugby saam in die Absolut Menlo-klubhuis te geniet. ‘n Vrywillige ledebydrae van R250 per jaar word waardeer waaruit gratis verversings aan ondersteuners en besoekers verskaf word. Daar is ook braaipakke te koop om tydens die wedstryde lekker saam te braai en die samesyn te geniet.
 
Ondersteunersinligting
 
MRK-lede word weekliks per e-pos op hoogte gehou van wedstryde, resultate en algemene rugby-inligting.
 
Ondersteunersdrag is tydens wedstryde beskikbaar by die klubhuis, wat gholfhemde (R200) en pette (R50) insluit.
 
Bestellings vir rugby-DVD’s en -foto’s word jaarliks geplaas.
 
Ouerverteenwoordigers is tydens wedstryde in die klubhuis beskikbaar vir ouers.