DIE HOËRSKOOL MENLOPARK

Sport


Perdry

Die stigting, groei en opkoms van Perdesport by Die Hoërskool Menlopark is ‘n onomwonde bewys dat ons tradisie om innoverend te wees, in die praktyk beslag kry.

Die primêre doel met die stigting van die klub in 2001, was om aan ruiters die geleentheid te gee om binne skoolverband kompeterend teen ander skole deel te neem. Na die eerste Menlo-interskoleskou is die idee van perdesport, as volwaardige erkende skoolsport, vinnig ingekoop deur die meeste skole in die groter Pretoria-omgewing. Na ‘n jaar of twee se informele interskolekompetisies, het ‘n formele liga van die grond gekom en die grondslag gelê vir die interskolekompetisie soos dit vandag bestaan.
Onder leiding van ‘n bekwame ouerkomitee het Menlo-perdesport die afgelope drie jaar die kruin van sukses bereik.
In 2009, 2010 en 2011 word Die Hoërskool Menlopark gekroon as die Algehele wenners van die Gauteng-Noord SANESA-Skolekompetisie en talle van ons ruiters word verkies tot die Noord-Gautengspan, asook die Gautengspan, wat met groot sukses aan die Nasionale Skolekompetisie deelgeneem het. Ons uithouruiters en "vaulters" maak ook hulle merk en ons eindig onder die beste langasems by die SANESA Skole-uithouritte en beste perdegimnaste by die "vaulting"-afdeling.
Die sukses van die klub die afgelope jare is te danke aan positiewe, entoesiastiese ruiters, aktief betrokke ouers en harde werk deur die ouerkomitee. Die borrelende optimisme van ons ruiters, die absolute toewyding van ruiters en die onwrikbare ondersteuning van die ouers is die fondament van Menlo-Perdesport.