ONS SKOOLLIED
EXCELSA PETAMUS
Hou hoog die vaandel wit en blou
Ons simbool van trots en trou
Ja, ons hart
En ons hand-
Aan ons skool is dit verpand.
Hier sal ons streef en werk en bou;
Waai ons vlag hoog, wit en blou!
En al wat ons skool sal vra,
is om trots sy naam te dra,
Excelsa Petamus! Excelsa Petamus! Excelsa Petamus!
Streef die hoogste na.
As Hugenote kinders trou,
Sal ons hul geloftes hou,·
Eer betoon,
Sonder loon,
Diensbereid en plig getrou;
Ons werk en spel getrou volbring;
Om Sy naam die lof te sing
En wat Sy gebod ons vra,
Streef ons in ons harte na.
Excelsa Petamus! Excelsa Petamus! Excelsa Petamus!
Streef die hoogste na.
Woorde: MNR J J BOTHA
Musiek: DR O A VAN DER STOEP
DIE SIMBOLIEK VAN ONS SKOOLWAPEN
'n Paar jaar gelede is daar in die parlement van die Republiek van Suid-Afrika 'n wet aangeneem wat onder andere bepaal dat die wapens en kentekens van watter liggaam ook al wetenskaplik en histories verantwoord moet wees. Derhalwe is daar 'n outonome Buro van die Heraldiek in die lewe geroep waar alle wapens wetlik geregistreer word.
Die wetenskap wat hom besig hou met die studie van die ontstaan, ontwikkeling en betekenis van familiewapens, wapens van lande, provinsies, stede, ens., noem ons die heraldiek. Ook behels dit die studie van die wapenreg en tewens die blasoeneer van wapens, d.i. om 'n wapen na die eise van die heraldiek juis te beskryf en te beskilder.
EIke onderafdeling van 'n wapen het 'n diepliggende simboliese betekenis - of dit 'n hert, 'n suil, 'n blaar of 'n toring is. Dieselfde geld vir die wyse waarop 'n wapen beskilder is: of dit met dwarsbalke horisontaal verdeel is; of dit in kwarte, of skuins in vier verdeel is; of dit geskakeer of geruit is.
'n Sonderlinge wapen wat onmiddellik tref, vanweë die eenvoud en skoonheid daarvan, is dié van Die Hoërskool Menlopark.
Nog treffender is die verhewe simboliek wat in hierdie oënskynlik eenvoudige, dog heraldies grootse skepping, opgesluit is.
Die wapen het as agtergrond 'n sirkelvormige skild en daar die sirkel internasionaal as die absoluut volmaakte vorm erken word, simboliseer dit die strewe na volmaaktheid.
Die vernaamste en opmerklikste teken in die middel van die sirkelvormige skild is die kruis. Die kruis is die sinnebeeld van ons onwrikbare geloof in die Woord van God. Volmaaktheid in hierdie geloof is die Christen se hoogste strewe op aarde.
Histories gesien, kom die kruis tot sy reg, aangesien dit ook die sinnebeeldige teken van ons Hugenotevoorouers, wie se uitmuntende deugde, soos geloof, offervaardigheid, deursettingsvermoë, beginselvastheid en verdraagsaamheid ons insgelyks wil nastreef en uitleef, was.
Die simboliek strek verder en word algaande diepsinniger: die vier kruispunte verdeel elk in twee en op die eindpunt verskyn agt kleiner sfere wat die agt saligsprekinge (Matt. 5:3-10) heraldies vergestalt. Histories gesien, simboliseer dit die agt ankers van die Hugenote en hulle strewe.
Die punte van die kruis is sodanig verbind dat vier hartvormige kwadrante ontstaan. Die hart versinnebeeld die liefde - en hier spesifiek soos dit in 1 Kor. 13:7 verwoord is.
Die kulminasie in die sinryke inhoud en skoonheid van hierdie unieke wapen is die geestelike besieling wat daaruit straal en wat diegene wat hierdie verhewe ideale nastreef sal ontvang.
Die epigrammatiese Latynse motto: Excelsa Petamus (laat ons die verhewe waardes nastrewe) is 'n wekroep tot ons om ons in hierdie eeu van materialisme en onrus die volmaakte ten doel te stel, wat so treffend uit die simboliek spreek.
Ten slotte - die twee sprekende kleure: wit en blou - om respektiewelik die reinheid van ons gedagte, die suiwerheid van ons ideale en die egtheid van ons karakteradel te vertolk.
GESKIEDENIS VAN DIE HOëRSKOOL MENLOPARK
Op 16 Oktober 1962 vind ‘n vergadering van ouers, binne die grense van Die H/s Menlopark, asook die verkiesing van ‘n tydelike komitee vir die te stigte hoërskool plaas. Die tydelike komitee bestaan uit Dr. Ernst Marais (voorsitter) en mev. M. le Roux (sekretaresse).
Op 3 Januarie 1963 was die gebou nog nie voltooi nie. ‘n Tiksterklerk het diens aanvaar en met administratiewe werk begin. Op 14 Januarie is die meubels en voorrade afgelewer en in die metaal- en houtwerkkamers geberg. Die Huishoudkundegereedskap moes vireers in mandjies en kartonne gelaat word. Eers op 24 Januarie is twaalf klaskamers en die kantore deur die inspekteur van Werke aan die hoof oorhandig. Met die hulp van ouers en hul kinders is die nodige meubels in die verskillende klaskamers geplaas. Die skool begin met 372 leerlinge vir standerd ses, sewe en agt. Vandag is daar 1 300 ingeskrewe leerders by die skool.
Die eerste Beheerraad van die skool word op 11 November 1963 verkies met Dr. Marais as voorsitter, Dr. P.J. Kloppers as ondervoorsitter en mev. E.J. Boshoff as sekretaresse. Mnr. P.Z.J. van Vuuren, (L.U.K) en mnr. A.J. Koen, Direkteur van Onderwys, besoek in Mei 1964 die skool om die lede van die beheerraad te ontmoet en die uitbreiding van die geboue te bespreek.
Uiteindelik het Die H/s Menlopark ook sy eie skooldrag gekry. Die motivering wat die deurslag gegee het, is die volgende: Die netheid en eenvoud van die drag is treffend en vang onmiddellik die oog van buitestaanders en medeskoliere. Die afwesigheid van kleurryke strepe is ‘n welkome afwisseling by die netjiese kleurbaadjies. Die blou wat as basiese kleur dien, illustreer die suiwerheid van die leerling se ideale. Ook treffend is die skoolwapen wat anders is as die konvensionele. ‘n Leerling met dié drag voel vrywillig onderdanig aan die skool en is bereid tot tradisiebou. Hierdie skooldrag is die mooiste in die stad en beeld ook die siel van die skool uit.
In 1965 word ‘n omsendbrief aan alle ouers gestuur onder die opskrif: “Ons skool vra ‘n lied”. Die finale keuse van die Beheerraad het op die gesamentlike poging geval van mnre. J.J. Botha (woorde) en C.A. van der Stoep (musiek).
Die eerste uitgawe van die skool se jaarblad, Die Eggo, verskyn in 1965. Die idee vir die buiteblad is deur Maritha Lombard (St. 10A1) ontwerp. Mnr M.M.K. Moolman het die ontwerp verwerk en persklaar gemaak. Soos die ontwerp van die trompette en die naam aandui, sal alles wat in die skoollewe plaasvind, uitgebasuin word.
Die eerste matriekafskeid vind plaas op Vrydagaand 12 November 1965. Gardiol de Villiers en Dirk Derksen was die eerste hoofleiers van die skool.
Na vele insamelingsprojekte breek die heugelike dag waarop die swembad amptelik in gebruik geneem kon word in 1972 aan. Sedertdien is Die H/s Menlopark steeds die enigste skool in Pretoria wat met ‘n olimpiese standaard (50m) swembad kan spog.
Aan die einde van 1963 het die waarnemende hoof, mnr. Böhmer, die leisels aan die eerste permanente hoof, mnr. J.P.L. van Zyl, oorhandig. Hy is in 1973 opgevolg deur mnr. Frans Gerber wat tot in 1980 die pos beklee het. Mnr Fanus Booysen gee in 1984 oor aan die huidige hoof, Dr. C.I.S. van der Merwe.
Ons tradisie is om te vernuwe
Die Hoërskool Menlopark wil leerders dinamies kreatief en met relevante vaardighede toerus om die uitdagings van die toekoms manhaftig op te los en skeppend ons land welvarend vir al sy inwoners maak.
Bogenoemde vind plaas binne die raamwerk van 'n sterk Christelike etiek en gemeet aan ons vier gesonder waardes, naamlik: Integriteit, lojaliteit, respek en ywer.
Seuns en dogters behoort die volwasse leefwêreld waarin hulle eendag gaan leef, lief hê, aanbid en werk alreeds nou in 'n gemengde skool te beleef. Die werksplek-arbeidsveld is te kompeterend om later nog aan te pas om met iemand van die teenoorgestelde geslag saam te kan werk.
Ons dink vernuwend om 'n styl van outydse, outoritêre dissipline te omvorm in selfdissipline waar leerders met relevante uitdagings die regte keuses sal kan maak en dan die regte dinge sal kan doen.
Ons leer ons kinders om “street wise” te wees, met ander woorde die spreekwoordelike “speakers corner” te gebruik om met verantwoordelikheid hulle sê te kan sê.
Kreatiewe denke word in elke faset van die skool aangemoedig eerder as om van leerders te verwag om in konformerende kassies te dink.
Leerders word geleer om waardegedrewe self verantwoordelikheid vir hulle doen en late te aanvaar en om sodoende nie afhanklik te wees van ouers en onderwysers se goed- en afkeuring nie, deurdat hulle self weet wat verkeerd en reg is.
Engels word op 'n huistaalbasis (moedertaal) aangebied sodat leerders ewe tuis in albei landstale sal wees. Onder andere word daar in elke vak moeite gedoen met terminologie wat leerders nodig vind om in vaktaal te kommunikeer.
Ons omvattende kampus bied 'n vriendelike, doeltreffende tuiste vir ons leerders wanneer hulle besig is met 'n verskeidenheid aktiwiteite. Daar is sportakademies vir bykans elke sportsoort met hulle eie leefstyl klubhuise. Op kulturele gebied het ons 'n doeltreffende eie dramateater. Ons musieksentrum is argitektonies uitstekend ontwerp om vir leerlinge met musiektalent die geleentheid te gee om in doelgemaakte musiekkamers te kan oefen.
Vakdidaktiek vind in die klaskamer al hoe meer op 'n moderne manier plaas, byvoorbeeld deur witborde, dataprojektors en interaktiewe borde. Daar is vier rekenaarsentrums waarin IT-verwante vakke en vaardighede aangebied word (byvoorbeeld leeslaboratorium). Ons toekomsvisie is ook om internet “hotspots” op die kampus daar te stel. Inligting wat die leerders raak, is vir 24-uur op 'n elektroniese bord beskikbaar.
Naas goeie akademie word vaardighede aan leerlinge geleer wat onontbeerlik in hulle beroepslewe sal wees. Leerders besoek beroepsomgewings sodat hulle eerstehands direk kan sien wat in bepaalde beroepe kan gebeur, so byvoorbeeld gaan die Rekeningkundeleerders saam met ouditeure na hulle kliënte om die beroep in praktyk te kan beleef.
Ons leierleerders word verkies om gesonde kommunikasie met ander leerders te laat plaasvind, sodat die leerders ervaar dat hulle nie net gesien word nie, maar ook gehoor word. Daar is ʼn matriekraad wat die hele skool bedien sowel as 'n graadraad vir elke graad. Dit het tot gevolg dat die basis van leerderleierskap, sowel as die kommunikasie tussen leerders baie vergroot word.
Die skoolbestuur beplan alle aktiwiteite sodat dit kindvriendelik en kinddeelnemend sal wees. (Leerders word byvoorbeeld geken in die opstel van eksamenroosters).
- Ons hou van ons leerders,
- ons hoor wat hulle sê,
- ons is aan dieselfde kant as ons leerders en
- ons het 'n toekomsplan vir ons leerders en saam met ons leerders.
Ons tradisie is om innoverend te wees.
Die skool word deur 'n holistiese benadering bestuur.
