Die Menlopark Muurbal-Akademie ( MMA) is in 2001 deur Liz Mackenzie gestig toe die skool die muurbalkompleks, aangrensend aan die Menlo-gimnasium, opgegradeer het. Liz Mackenzie is ook die bestuurder en hoofafrigter by die Menlo Muurbal-Akademie en die hoof van muurbal by TUKKIES se Hoëverrigtingsentrum. Die doel van die MMA is om aan die leerders van Die Hoërskool Menlopark uitstekende afrigting en oefening te bied binne die veiligheid van die skoolgronde.
Hoewel die MMA onafhanklik van die skool bedryf word deur die Wêreld Muurbal-program, geniet dit die volle ondersteuning van die onderwyspersoneel, sowel as die skoolhoof. Afrigtingsessies word in ooreenstemming met die akademiese rooster van die spelers geskeduleer. Die leuse, “Waar Kampioene Ontwikkel”, is die hoeksteen waarop die spelers, wat deel van die program is, se sukses gebou word. Ons oogmerk is om ‘n kind tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Ten einde te verseker dat die program deur wêreldklaskundigheid gedryf word, word spesialisafrigters uitgenooi om sessies vir die verskillende groepe binne die MMA aan te bied. Enige leerder van Die Hoërskool Menlopark wat belangstel, is welkom om by die MMA aan te sluit, aangesien die afrigtingsessies op die onderskeie leerders se individuele vermoëns gebaseer is. Daar word vir beginners, sowel as vir gevorderde provinsiale en nasionale spelers, voorsiening gemaak.
Die MMA is ‘n satellietprogram van Tukkies Muurbal, en die spelers trek voordeel uit die Sportwetenskap-studente van die Universiteit van Pretoria se betrokkenheid, asook die ondersteuning van die Hoëverrigtingsentrum se fisioterapeute, biokinetici, sportwetenskaplikes en voedingkundiges.
Die MMA gaan jaarliks van krag tot krag, met die hoogtepunt in 2008 toe die MMA die Nasionale Top Schools-titel gewen het. Ander prestasies sluit in die gereelde insluiting van MMA-spelers in Suid-Afrikaanse nasionale ouderdomspanne wat Suid-Afrika reeds in Namibië, die Verenigde Koninkryk en in Maleisië verteenwoordig het. In 2008 is die MMA se nr.1-speler ook gekies as kaptein van die Suid-Afrikaanse Junior Mansspan wat aan die Wêreldkampioenskappe in Switserland gaan deelneem het.
By Die Hoërskool Menlopark se Muurbal-Akademie kry spelers die geleentheid om muurbal te leer speel en/of om ernstige afrigting te kry en op muurbal te fokus. Oefentye is op Maandae-, Woensdae- en Vrydae-oggende tot 09:00. Ná die oefen- en afrigtingstyd sluit leerders weer by hulle akademiese program aan. Sodoende word tyd ontsluit vir leerders om in die namiddag ander sport- of kultuuraktiwiteite te beoefen.
Daar is tans lede wat wissel van beginners tot nasionalevlak-spelers. Akademie- spelers soos Alexa Pienaar, is gerekende name in die muurbalwêreld en sal in 2012 deelneem aan die keurings vir die nasionale spanne. Andre de Bruyn, Josh Pretorius en Heinrich Groenewald, is drie nuwe Menlo-sterretjies wat reeds bekende name in muurbalkringe is en wat beslis van die ouer Menlo-muurbalmanne sal uitdaag vir die elite TOP 6 – posisies. Beginner-spelers voed die Akademie en dra ‘n belangrike deel by tot die sukses van die skool se spanne in die liga.
Die Akademie is ‘n suksesverhaal en het oor die jare vele spelers gehelp om hulle talente te realiseer in ‘n sport wat nog vir baie jare beoefen kan word nadat ‘n leerder se skoolloopbaan verby is.
