Skaak 

Die Menlo-Meisies het pas as Gauteng-kampioene die skaakseisoen afgesluit! Dit nadat hulle einde verlede kwartaal as Distrikskampioene ook gekroon is.

 

Foto links na regs:  Sophia Bührmann , Mireille Havenga, Carissa van Aarde, Sonja Scholtz (kaptein), Lenke van Aarde, Monica Jansen van Rensburg en me Marcel de Waal (skaakorganiseerder).

NUUSBRIEFINSKRYWING

Naam:
E-pos:
 

DIE HOËRSKOOL MENLOPARK

Inligting


Menlo-Mense

ABSOLUT AKADEMIE

Die personeel van Die Hoërskool Menlopark streef uitnemendheid op elke gebied na! Hulle word met die hand uitgesoek om seker te maak dat hulle oor die talent bekik om uit elke menlo-man en menlo-meisie die maksimaal van hulle potensiaal na vore te bring. Op die gebied van akademie loop hulle voor in die ontwikkeling van leermateriaal vir hulle vakke/ leerareas. As entoesiastiese Menlo-personeel floreer hulle ook by legio ander Parkie-avonture!

 

 

 BESTUUR VAN DIE HOëRSKOOL MENLOPARK

 

Dr Carel van der Merwe, hoof, is reeds die afgelope 23 jaar voorsitter van die hoofdekring van Pretoria en een van die toonaangewende padpredikante wat die eietydse onderwyspad help oopkap. Ons hoof is ons trots en hy hou die wiele van 'n ongelooflik dinamiese skool en onderwyserkorps aan die draai. Hy glo in moderne, eietydse bestuur. Hy en sy vrou, Sheila, leef die skool met hart en siel. Hulle is altyd êrens tussen Parkies by een of ander funksie of aktiwiteit. Doktor vd Merwe ken die meeste Parkies (en daar is 1350) by die naam, of weet waar hulle woeker op die Parkie-bodem! Hy is ook 'n dierbare oupa wat met kleinkind op die arm sy rondtes doen by al die legio aktiwiteite van die Menlo-manne en Menlo-meisies.
 

 

Mnr Sias Conradie, Senior Adjunkhoof vir akademie en informasietegnologie is 'n baie ervare en beminde Wetenskap-onderwyser met voortreflike Gr 12-uitslae. Hy is bekend vir sy minsame en geduldige verduidelikings. Hy sorg dat elkeen van sy leerders volgens potensiaal presteer en haal die heel beste uit elke leerder. Hy is ook 'n hoogs- bekwame adjunkhoof wat sorg dat die skool foutloos aan die beweeg bly. Hy is 'n krieket- en rugbyafrigter van formaat. Mnr Sias Conradie skrik vir geen probleem en sy bedaarde benadering hou die skool se stuur sekuur op koers!
sias.conradie@menlopark.co.za

 

 

Mnr Manie Geldenhuys, Senior Adjunkhoof vir terrein- en leerdersake is een van die Parkies se gunstelinge, want sy hart vir Parkies is so groot soos 'n hotel. Hy is 'n spesialis-Rekeningkunde onderwyser met uitmuntende Gr 12-uitslae, maar dan is sy passie vir rugby en die skool se Parkieraad (VLR) alombekend. Hy dien in die bestuur van die Blou Bulle en is die siel van die skool met sy elektroniese aankondigingsbord, sy vinnige drafstap en sy interessante aankondigings. Hy is die gees in die Menlofees en hierdie man bou 'n koshuis en organiseer 'n kaskarwedren voor ontbyt. Hy is 'n onmisbare skakel in die dinamiese bestuur van Die Hoërskool Menlopark.
manie.geldenhuys@menlopark.co.za

 

 

Mnr Nico Erasmus: Adjunkhoof - sport en formidabele atletiekorganiseerder wat Die Hoërskool Menlopark reeds die afgelope 10 jaar die Jakaranda Prestige Atletiekbyeenkoms laat wen! As Geskiedenis-onderwyser behaal hy ewe groot suksesse met die helfte van sy Gr 12-klas wat A-simbole en 'n gemiddeld van 74% en meer in die Gr 12-eindeksamen behaal. Hy is een van die mees geliefde personeellede by Die Hoërskool Menlopark wie se passie en dryfkrag aansteeklik inwerk op sy leerders, hetsy in die klaskamer of op die atletiekbaan. . Mnr Erasmus is ons skool se trots!
nicoerasmus@yahoo.com

 

 

Me Annieka Moolman, Adjunkhoof: Bemarking & Skakeling As Adjunkhoof: Bemarking tree sy op as kommunikatiewe skakel op en gesels graag van en oor Die Hoërskool Menlopark en sy koshuis.Sy hanteer ook alle uitslae en algemene navrae.
info@menlopark.co.za

 

 

 

Mnr Harm van Helsdingen: Adjunkhoof- kleiner sporte. Hy is 'n voortreflike Geskiedenis-onderwyser met uitstekende Gr 12-uitslae. Hy en mnr Nico Erasmus wissel mekaar af en sodoende het elkeen elke tweede jaar die Gr 12-leerders vir Geskiedenis. Sy algemene kennis werk aansteeklik in op Parkies en maandag-oggende in saalopening behandel hy 'n unieke spotprent met 'n saal vol Menlo-manne en Menlo-meisies wat aan sy lippe hang. Hy is ook in beheer van die MUURBAL-AKADEMIE, die TENNISAKADEMIE, die Gholf, Skaak, Fietsry en Perdesport en mede-bestuurlid van menlo-swem. Hy is dan ook die man wat alle drome waar maak in Parkieland! 'n Parkie kan enige sportsoort beoefen, solank hy/sy net sy sin begin met ABSOLUT MENLO! Sy Gholfdae is legendaries! Hy is ook 'n gerekende rugby-afrigter.
harm@menlopark.co.za

 

 

Mnr Wian van Schalkwyk, Adjunkhoof (Koshuis en Gees) skryf die Rekeningkunde- leerprogramme wat deur die meeste skole gebruik word. Onder sy leiding skitter die leerders in elke Matriekeindeksamen met 'n minimum gemiddeld van 78% en die afgelope twee jaar vonkel daar 35 en meer A-simbole in sy gr 12-matriekuitslae. Hy is ook 'n rugbyafrigter van faam. Mnr v Schalkwyk se liefde vir sy leerders is legendaries en so ook hulle agting en respek vir sy kragtoere in die klaskamer. Mnr Wian v Schalkwyk is ook die skool se onderwyser wat sorg dat die Menlo-gees gons en die pawiljoene konstant gepak bly met entoesiastiese Menlo-ondersteunders. Hierdie man is die skakel wat die driehoek van akademie, koshuis en gonsende gees op die Menlo-bodem laat blom.
wian.vanschalkwyk@menlopark.co.za

 

 

 

Dr Wessel van Tonder, Adjunkhoof:administrasie en strategiese sake is 'n baie ervare onderwysman, wat nou in beheer is van die Administratiewe vloei by Die Hoërskool Menlopark. Hy hou die wiele geolie en sorg dat alles en almal in pas bly met die jongste ontwikkelings, die kursusse, die inligtingstukke. Kortom: hy sorg dat die skool nie die pas markeer nie, maar aan die voorpunt van Onderwys Suid-Afrika huppel. Hy is ook 'n ervare Gr 12-Afrikaans-onderwyser wat saam met sy kollega, me Suzette Venter, hulle eie Gr 12 -leerprogramme geskryf het en die Werkboek is alombekend onder Gr 12-Parkies en hulle vriende uit naasliggende skole. Hy is ook die skrywer van die Future Entrepreneurs Gr 12-leerprogramme en leesgidse by voorgeskrewe boeke. Saam met sy twee Afrikaans-kollegas sorg hulle jaarliks vir 'n minimum van 100 A-simbole wat hulle in 'n skitterklas van hulle eie plaas. Ervare en maksimaal toegewyd- dis Dr Wessel van Tonder .
wessel.vantonder@menlopark.co.za

 

 

Me Elbeth Vermaak: Adjunkhoof -Akademie (juniors) en Kultuur. Sy bekoor Wetenskapleerders met " Wetenskap: waar wenners wenners word " in so 'n mate dat daar jaarliks ongeveer 200 inskrywings vir die Wetenskap-Olimpiade is. Sy organiseer ook 'n Interne Wetenskap Ekspo waaraan al wat Wetenskap-leerder is, deelneem! Sy skryf haar eie leerprogramme en is bekend vir die brugbou-kompetisies wat sy organiseer. Sy het puik Gr 12-uitslae vir Wetenskap en staan kop en skouers bo haar kollegas van ander skole uit. Me Vermaak is ook aan die hoof van die Menlo-Verrykingsakademie en bring sprekers na die skool wat 'n uitgebreide kurrikulum aan die leerders bied.
em.vermaak@gmail.com

 

 

Me Esme Claassen, Departementshoof Engels, is reeds byna 20 jaar verbonde aan Die Hoërkool Menlopark en een van die skool se mees ervare en gewaardeerde leerkragte. Sy bestuur die vak Engels met 'n ysere maar hoogs kreatiewe hand! Sy is bekend vir haar belesenheid in die vak. Sy bied Engels (Huistaal) en Engels (Eerste Addisionele Taal) aan en is bekend vir die kreatiewe lesse en deeglike navorsing in die leerarea/vak. Sy hou die huistaal-leerders aan die lees met 'n wye verskeidenheid van die jongste romans. Sy lees egter al die romans eers self en kan met elke leerder 'n gesprek voer oor die roman van sy/haar keuse. Haar Departement lewer van die skool se meeste A-simbole per vak aan die einde van gr 12. Sy is ook 'n redenaar-doyenne en maak haar merk op elke gebied aan haar toevertrou.
esme.claassen@menlopark.co.za

 

Mnr Hans Moolman, Departementshoof Afrikaans, is 'n bekende in Afrikaans-kringe nadat hy etlike jare die Afrikaans-huistaal-leerprogramme vir die Future Entrepreneurs- reeks wat deur legio skole aangekoop en gebruik word, geskryf het. Hy het ook die taalbydraes vir die internet-koerant J-NUUS geskryf, bied kursusse vir AOO en VOO vir die Departement van Onderwys aan . Hy word beskou as een van di kundiges op die gebied van opleiding en implementering van Algemene Onderwys en Opleiding en Verdere Onderwys en Opleiding. Hy het ook 'n studie gemaak van die verskillende maniere waarop seuns en meisies leer en lei die personeel van Die Hoërskool Menlopark op om binne 'n gemengde skool-opset beide geslagte maksimaal te ontwikkel. Hy tree dikwels as gasspreker by die Universiteit van Pretoria op en bied opleiding landswyd aan as lid van die SAOU se talekomitee. Mnr Moolman is bekend vir sy besondere aanbieding van Poësie. Selfs die gehardste taalhater haal reëltjies Poësie aan nadat hulle sy klas besoek het. Hy is ook redakteur van die jaarblad, DIE EGGO en die Menlo-webmeester.
hans.moolman@menlopark.co.za

 

 

Mnr Henk Smit is Departementshoof Wiskunde en laat hom nie maklik onderkry deur syfers, balle of geboue nie. Menlo-matrieks geniet sy Wiskunde-verduidelikings wat in reënboogkleure oor die borde flikker. Hy is mnr Geduld! Hy maak grafieke maklik en geen Wiskunde-matriek hoef terug te staan vir 'n syfer nie. Hy vibreer ook op die Menlo-bodem: is 'n rugby-afrigter by die rugby-akademie, laat hom geld op die atletiekveld, en staan nie maklik terug vir enige probleem nie. Saam met sy Wiskunde-departement is die Parkies lid van die Departement van Onderwys se KLUB 100 en lewer jaarliks top Wiskunde prestasies.
henkrentia@telkomsa.net

 

 

 

 

 

Mnr Christo le Roux, Departementshoof Lewens-oriëntering, versorg Parkies en hou hulle op koers met vakkeuses, oueraande en opvoedkundige leiding. Die man is op 'n ewige drafstap en altyd reg met 'n drukkie en staan elke Parkie met raad en daad by. Hy is ook 'n toegewyde rugby- en krieket-afrigter en betrokke by amper elke ander aktiwiteit op die Menlo-terrein.
christo.leroux@menlopark.co.za

 

 


Mnr Hein Brits, Vakhoof : Tehnologie. Hierdie meneer se Ingenieursgrafika en ontwerp-uitslae is die beste in Gauteng! Hy is koning van die tekenbord en sorg dat sy leerders ook konings en koninginne van die tekenbord word. Leerders hang aan sy lippe en vat die tekenapparaat ferm vas.'n Meer gefokusde en toegewyde onderwyser met 'n sin vir absolute perfeksie kan mens moeilik vind. Sy betrokkenheid by enige aktiwiteit en taak aan hom opgedra, laat vibrasies na. Entoesiasme, toewyding en volharding is sy kodewoorde. heinbrits@xsinet.co.za

 

 

 

Me Mariana de Klerk aan die hoof van die kunste. Me de Klerk is reeds deur MTN en deur die Gauteng Depatement van Onderwys bekroon as die 'Kuns-onderwyseres van die jaar'. Sy sorg dat elkeen van die Parkies in Picassos verander. Sy is nasionaal bekend vir haar leerders se prestasies in Design an Ad-kompetisie, die Tshwane kunstefees en legio ander kunskompetisies. Jy moet nooit vir hierdie juffrou sê: "jy kan nie", sy beskou dit as 'n persoonlike uitdaging om jou verkeerd te bewys. Sy bestuur ook die leerarea Kuns- en Kultuur ferm en vriendelik en sorg dat gr 8 & gr 9 spesialis kuns, musiek en drama-opleiding kry sodat hulle in gr 10 met gemak die vakke kuns, musiek en drama tot gr 12 kan neem. Haar jaarlikse kunsuitstalling slaan asems weg!