NUUSBRIEFINSKRYWING

Naam:
E-pos:
 

DIE HOËRSKOOL MENLOPARK

Fasiliteite


Koshuis

Menlo-koshuis

Ons Menlo-koshuis is nie ‘n skoolkoshuis soos van ouds nie, maar ‘n  Menlo-gesin in ‘n heerlike Menlo-wooneenheid op die skoolterrein waar passievolle Menlo-manne en Menlo-meisies gekoester word. Die Menlo-koshuis ondersteun die Menlo- waardes van integriteit, lojaliteit en respek en ywer. Parkies wat gemotiveerd, entoesiasties en absoluut passievol is om die skool se geleenthede te gebruik, word in die Menlo-koshuis met ope arms verwelkom. Die Menlo-koshuis bied ‘n geleentheid vir gemotiveerde deelnemende leerders om in ‘n veilige, gedissiplineerde, maar gesellige gesinsopset hulle maksimale potensiaal te bereik en saam met ons skool groot te droom en hard te werk om elkeen se drome vlerke te gee!

Die Menlo-koshuis is splinternuut. Dié koshuis het sy deure Julie in 2009 geopen en is geleë in die hartjie van die skool, wat dit moontlik maak vir inwoners om met veiligheid en gemak te beweeg na die sportgrond, Blouteater, gimnasium, muurbalbane, 50m Olimpiese standaard swembad, rekenaarsentrum en mediasentrum. Die Menlo-koshuis is stapafstand van ‘n winkelsentrum, apteek, mediese dokter en tandarts af.
 
Algemene Inligting 
 
Die Menlo-koshuis kan 72 leerlinge huisves: 36 seuns en 36 dogters.
As gevolg van die beperkte akkommodasie beskikbaar is daar ‘n streng keuringsproses.
 
Ons koshuisgebou is voorsien van ‘n sekuriteitstelsel en ons inwonende terreinbestuurder se woonstel is om die hoek van die koshuis geleë.
 
Daar is 3 diensdoenende personeellede (almal ook personeellede van Die Hoërskool Menlopark): ‘n seunsvoog, dogtersvoog en koshuisvader wat sorg dat die Menlo-koshuismeisies en -koshuismanne gekoester en gelukkig kan blom waar hulle woon. Die personeellede is almal inwonend en sorg dat hulle die meisies en manne se skedules volledig ken.
 
Ons koshuis spog ook met 2 matrones en ‘n hele span entoesiastiese werkers wat ons Menlo-inwoners volledig op koers hou!
 
‘n Dieetkundige help met die saamstel van die spyskaarte en etes in die Menlo-koshuis is voortreflik.
 
‘n Ontspanningsvertrek  vir die ontvangs van gaste is ons Menlo-trots.
 
DSTV is beskikbaar in die kuiervertrek en gesellige kuiertyd is net so ‘n prioriteit as gefokusde studietyd.
 
Menlo-koshuis in ‘n neutedop
 
Menlo-inwoners is gemotiveerde, geetesgesonde, deelnemende leerders
Juniors deel ‘n kamer met ‘n mede-junior. Dit vergemaklik ook nuwelinge se inskakeling by Die Hoërskool Menlopark in sy geheel.
 
Seniors kan enkelkamers betrek.
 
Elke inwoner het ‘n eie kas in die kamer. Elke inwoner beskik ook oor ‘n skatkis (onder sy bed) met ‘n slot en sleutel om privaat eiendom veilig gesluit te hou.
Menlo-koshuisgangers het ook ‘n bedkassie en werksoppervlak in die kamer.
Elke gang het ‘n eie “ABSOLUT Menlo”-kamer vir die wat oor naweke nie kan huis toe gaan nie as gevolg van ‘n verskeidenheid aktiwiteite - hierdie kamer het ʼn middelgrootte yskas en ‘n mikrogolf om Menlo-inwoners aan die huppel te hou!
 
Wasgoed word een keer per week (of op versoek) in die koshuis gewas.
 
Leerders mag met die nodige verlof van die senior koshuisvader wel ʼn rekenaar hê, maar alleenlik nadat hul ouers skriftelik daarvoor aansoek gedoen het. Sodanige rekenaars mag alleenlik vir studiedoeleindes en die stuur van e-posboodskappe gebruik word.
 
‘n Radio is ʼn vergunning wat ontneem kan word indien dit so gebruik word dat dit vir iemand anders ʼn steurnis is. Radio’s word in kaste toegesluit wanneer dit nie gebruik word nie.
 
Vasgestelde studietye is ‘n ononderhandelbare geleentheid tot akademiese sukses. Leerders wat dit op grond van akademiese meriete verdien, mag studietyd en bloktyd in  hulle kamers werk. Alle ander leerders studeer en werk ernstig in die studiesaal.
 
Koshuispret word per kwartaal beplan en sluit geleenthede soos’n potjiekos-kompetisie, maanligpiekniek in die koshuistuin en koekversierkompetisies in.
 
Spangees is deel van Menlo-wees en vind ook sterk neerslag in ons Menlo-koshuis-ervaring.  
 
Die koshuis is ‘n Menlo-gesin binne die groter Menlo-familie en so funksioneer die koshuis en ons skool as ‘n hegte eenheid saam.