Menlo_Menlopark_Swem

Menlo-Swem

Swem bruis in die Menlo-bloed van elkeen van ons swemmers. Toewyding, deursettingsvermoë en ‘n onblusbare spangees, sorg dat Die Hoërskool Menlopark jaarliks die A-bond swemafdeling vir gemengde skole wen. Gemotiveerde en gefokusde swemmers volg in die voetspore van vorige generasies legendariese Menlo-swemmers  wat almal gebind word deur die wete dat harde werk en groot drome die boublokke vir sukses is. Die Hoërskool Menlopark het ‘n tradisie van swemsuksesse binne die veilige  netwerk van ‘n swemgesin waar almal mekaar aanmoedig en ondersteun en saamtoer van swembad tot swembad oor skool, stads- en provinsiale grense heen.

Fasiliteite

Menlo-swem spog met ‘n 50-meter olimpiesestandaard verhitte swembad met splinternuwe baantoue en wegspringblokke wat agt bane van mekaar skei; dit bied aan ons swemmers die geleentheid om in ‘n swembad van Olimpiesestandaard in galas van hoogstaande gehalte mee te ding. Omdat die swembad verhit is, kan Menlo-swemmers dus regdeur die jaar aan die oefen bly om topprestasies te bereik.

Die terrein om die swembad het grasperke, skadu en sitplekke vir swemmers en ondersteuners.

Die Menlo-swemmers het ook toegang tot nuutopgegradeerde kleedkamers vir seuns en dogters.