Menlo-Muurbal

Die Menlopark Muurbal-Akademie ( MMA) is in 2001 deur Liz Mackenzie gestig toe die skool die muurbalkompleks, aangrensend aan die Menlo-gimnasium, opgegradeer het. Liz Mackenzie is ook die bestuurder en hoofafrigter by die Menlo Muurbal-Akademie en die hoof van muurbal by TUKS se Hoëverrigtingsentrum. Die doel van die MMA is om aan die leerders van Die Hoërskool Menlopark uitstekende afrigting en oefening te bied binne die veiligheid van die skoolgronde.

Hoewel die MMA onafhanklik van die skool bedryf word deur die Wêreld Muurbal-program, geniet dit die volle ondersteuning van die onderwyspersoneel, sowel as die skoolhoof. Afrigtingsessies word in ooreenstemming met die akademiese rooster van die spelers geskeduleer. Die leuse, “Waar Kampioene Ontwikkel”, is die hoeksteen waarop die spelers, wat deel van die program is, se sukses gebou word. Ons oogmerk is om ‘n kind tot sy volle potensiaal te ontwikkel.

Ten einde te verseker dat die program deur wêreldklaskundigheid gedryf word, word spesialisafrigters uitgenooi om sessies vir die verskillende groepe binne die MMA aan te bied. Enige leerder van Die Hoërskool Menlopark wat belangstel, is welkom om by die MMA aan te sluit, aangesien die afrigtingsessies op die onderskeie leerders se individuele vermoëns gebaseer is. Daar word vir beginners, sowel as vir gevorderde provinsiale en nasionale spelers, voorsiening gemaak.

Die MMA is ‘n satellietprogram van TUKS Squash, en die spelers trek voordeel uit die Sportwetenskap-studente van die Universiteit van Pretoria se betrokkenheid, asook die ondersteuning van die High Performance Centre (HPC) se fisioterapeute, biokinetici, sportwetenskaplikes en voedingkundiges.

Twee dekades later gaan die MMA van krag tot krag. Tans is sowat tagtig Menloparkers deel van die program. 'n Groot aantal spelers verwerf jaarliks provinsiale kleure. Die MMA is trots op oud-leerder, J.P. Brits, SA-kampioen en Alexa Pienaar - studentemuurbalkampioen in 2019.

Die belangrike bydrae wat die MMA tot 'n leerder se opvoeding sal bydra is die vaardigheid om toegewyd te oefen en in staat te wees om lank na hul skooljare kompeterend te wees op 'n muurbalbaan.

Kliek hier vir die 2019 registrasievorm